Nieuws

Laudatio bij de uitreiking van de Van Riebeeck-penning

(23 april 2011) De Van Riebeeck-penning is door de Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging uitgereikt aan Adriaan van Dis wegens zijn ”langdurige bijdrage aan de culturele en taalkundige betrekkingen tussen Nederland en Zuid-Afrika, die zich kenmerkt door ondermeer zijn doctoraalscriptie over Breyten Breytenbach, zijn romans Het beloofde land en Tikkop, de met de Nipkowschijf bekroonde tv-serie Van Dis in Afrika en zijn vele krantenartikelen.’ Professor dr. Ena Jansen sprak de laudatio uit, u kunt de tekst hieronder lezen.

Laudatio bij de uitreiking van de Van Riebeeck-penning
(23 april 2011) De Van Riebeeck-penning is door de Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging uitgereikt aan Adriaan van Dis wegens zijn ”langdurige bijdrage aan de culturele en taalkundige betrekkingen tussen Nederland en Zuid-Afrika, die zich kenmerkt door ondermeer zijn doctoraalscriptie over Breyten Breytenbach, zijn romans Het beloofde land en Tikkop, de met de Nipkowschijf bekroonde tv-serie Van Dis in Afrika en zijn vele krantenartikelen.’ Professor dr. Ena Jansen sprak de laudatio uit, u kunt de tekst hieronder lezen.Laudatio Adriaan van Dis: 23 april 2011 Marmerzaal KIT, Amsterdam

Die voorsitter van die NZAV sal oor enkele minute die Van Riebeeck-erepenning oorhandig aan Adriaan van Dis, ‘n markante skrywer, dokumentêre-maker en Afrika-kenner wat die vereniging wil vereer vir die boeiende, warm en positief-kritiese manier waarop hy Suid-Afrika in Nederland onder die aandag bring. Dit het hy onder andere gedoen deur sy VPRO-dokumentêre reeks Van Dis in Afrika waarvoor hy in 2008 die silwer Nipkov-skyf ontvang het. Sy roman Tikkop uit 2010 is die mees aktuele rede vir die toekenning van die penning. Bowenal wil die NZAV Van Dis eer vir sy liefde en inset vir Afrikaans – ’n liefde waarvan die laureaat self ongetwyfeld straks die beste bewys sal lewer met sy toespraak oor die ‘vergiftigde prins’ Afrikaans.

In September 2010 het ’n onderhoud met Van Dis in NRC Weekblad verskyn met as opskrif in koeieletters: ‘Ik ben een bang mens’. Nou, dames en here, ek kan getuig datAdriaan van Dis nie ’n bang haar op sy kop het sover dit Afrikaans aangaan nie.Van nog voor die 1980s toe sy krullebol vir die eerste keer in sy boekeprogram Hier is … Adriaan Van Dis op die Nederlandse televisie verskyn het en van hom ’n bekende Nederlander gemaak het, het hy al ronduit uitgekom vir sy verliefdheid op Afrikaans, ‘n taal wat hy beskryf as ‘een onder de zuiderzon gebakken Nederlands’. Met so ’n verliefde man praat ’n mens dus in die taal van sy hart – en vandaar dat ék voor u staan. Ek ken Adriaan vanaf 1975, kort nadat ek as student van Stellenbosch na Nederland gekom het. Aan my nou as Afrikaanstalige NZAV-lid en as die Suid-Afrika Instituut se besonder hoogleraar Afrikaanse letterkunde aan die UvA is gevra om hom lof en hulde toe te swaai en aan u te verduidelik waarom hy die penning verdien.

As daar een ding is wat Adriaan van Dis reeds as student aan die Universiteit van Amsterdam nie onder stoele of banke gesteek het nie, was dit sy verliefdheid op Afrikaans. Dit was ’n liefde wat destyds in die 1970s mannemoed gekos het om te bely. Toe alles wat Afrikaans was maar al te eenduidig gelykgestel is aan rassisties-fout en op voorhand apartheid-geknoei, het dit vir Van Dis duidelik geword dat ’n onderskeid tussen regeringsbeleid en die taal Afrikaans gemaak moet word. Vanuit sy Nederlands-Indiese outobiografie en sy pa se grappies in Petjoh het hy hom ook tot Afrikaans aangetrokke gevoel: tot vrytaal, tot kromtaal, tot bastertaal – soos wat hy Afrikaans en kreoolse tale beskryf.[1] Danksy Afrikaans het sy eie skryfstyl ontwikkel, ‘n Nederlands wat óók ’n vrytaal wil wees en waarby die ‘ribbetjies’ van Afrikaans pragtig deursteek in veral sy boeke wat oor Suid-Afrika gaan. Hoe meer Adriaan van Dis ’n groot kokkedoor in die Nederlandse letterkunde geword het, des te meer het Afrikaans daarby gebaat. Ons kan trots wees dat iemand soos hy hom reeds veertig jaar lank so direk metAfrikaans besig hou.

Na sy kandidaatseksamen het Adriaan van Dis Afrikaans ontdek. Maar veel eerder hy hy Afrika ontdek. Opvallend genoeg staan ons vandag op ’n plek wat vir hom, soos hy self gesê het, ‘levensbepalend’ was. Toe hy tien of elf was het hy in die Tropische Museum die Surinaams-Nederlandse akteur Otto Sterman hoor voorlees en was hy onmiddellik gefassineer deur swart mense en Afrika. Na aanleiding van ’n gedig van Breytenbach oor sy vrou Yolande het hy by Afrikaans uitgekom. ‘Wat my in Afrikaans fascineerde was de kleurgevoeligheid van de sprekers van die taal.’ Dit het hom aan die Indo-dialek petjoh laat dink. ‘Die talen waren het bewijs van kleur, maar onder de apartheid werden die wortels steeds sterker ontkend, op dezelfde wijze waarop mijn vader zijn kleur ontkende. […] Bastaarden op zoek naar zuiverheid: daar wilde ik meer van weten. De politieke verontwaardiging kwam pas later.’

Die veelheid en verskeidenheid van bande tussen Van Dis en Afrika, meer spesifiek Suid-Afrika, is opvallend. Hy het veral enorm baie beteken vir die bekendheid van Breyten Breytenbach se werk in Nederland. Vir die Poetry International Serie waarin Breyten se bundel Skryt. Om ’n sinkende skop blou te verf in 1972 verskyn het, het Van Dis die Nederlandse vertalings gemaak en sy dosent Afrikaanse letterkunde, Truida Lijphart-Bezuidenhout, bedank vir haar aandeel. Veral het Van Dis ongelooflik baie gedoen om Breyten voor, maar juis ook tydens die baie moeilike tronkjare jare heen, onder die aandag van die Nederlandse publiek te hou. Met sy voorwoorde, nawoorde, vertalings en woordverklarings in Meulenhof-bundels het die digter en Van Dis ongeveer sinoniem geword. Sy waardering vir Breytenbach se spel met taal moes sekerlik ’n invloed op sy eie skrywerskap gehad het. Van Dis is immers vanaf die begin van sy oeuvre daarvoor geprys dat hy woorde op sy tong rondrol tot die gladste en soepelste, die spelerigste woord te voorskyn kom.

Sy novelle Pamlwijn is in 2001 deur Abraham H. de Vries in Afrikaans vertaal. Wat baie belangrik was, was dat Van Dis hom in dié tyd nadruklik uitgespreek het téén ’n vanselfsprekende veronderstelling datAfrikaanse lesers spesifiek ómdat hy Nederlands was by sy sienings aansluiting sou vind: ‘Hou tog nou eenmaal op met die geseur oor stamverwantskap. Ek dink datAfrikaanstalige lesers ook baie herkenning sou vind in die werk van die Nigeriese skrywer Ben Okri.’[2] Juis sy ruimer blik op Afrika en Afrikaans se plek ín Afrika is so belangrik. In artikels soos ‘De taalstrijd van de Afrikaner; Van basterd tot Baas’ het hy kort na die Soweto-opstand in 1976 aan NRC-lesers verduidelik hoe ingewikkeld ’n taal en sy posisie kan wees.[3]

Behalwe Breytenbach het talle ander Afrikaanse skrywers danksy sy sensitiewe aandag vir hulle werk aan status gewen. So het hy van Elisabeth Eybers pragtige uitsprake oor haar tussenposisie ontlok en met Robert Dorsman die mooi bloemlesing O, wye en droewe land in 1998 gepubliseer en baie Afrikaanse digters aan Nederlandse lesers bekendgestel. Hierdie titel, ’n aanhaling uit NP van Wyk Louw se werk, is baie bekend in die Afrikaanse letterkunde. Met die titel van sy reisboek Het beloofde land wat in 1990 verskyn het, het Van Dis reeds aangesluit by die tradisie van land-titels in Afrikaans. In veral hierdie pragtige boek het geblyk dat Van Dis se uitstekende kennis van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde aan hom ‘n ongemaklike insig in die bedompige binnekamers van die Afrikaner-psige gegee het – soos wat Daniel Hugo dit ooit gestel het. In Tikkop, ‘n meesleurende roman waarin verval en angs in die Nuwe Suid-Afrika op ’n ongemaklike wyse verwoord word, speel Van Dis wéér in op hierdie land-titels. Ek verwys na ‘n toneel waar sy alter-ego Marten kyk na die blankes agter hulle hoë mure, na die tikkoppe wat ‘speling zochten in hun hel’. Hy en Suid-Afrikaanse struggle-kamerade het toentertyd van vryheid en gelykheid vir Suid-Afrika in Parys gedroom. Wat hy nou in die Suid-Kaapse kusdorp aantref, en ek haal aan, is ‘het gekloofde land waar een nieuwe elite de eigen clan boven het ander stelde.’ (92) In die twintig jaar tussen Het beloofde land uit 1990 en hierdie sin het oneindig baie in Suid-Afrika gebeur. Tussen beloof en gekloof val die pap op die grond.

Adriaan van Dis hou hierdie proses haarskerp in die gate en Suid-Afrika en Afrikaans kan alleen maar daarby baat dat Van Dis so ’n uitstekende waarnemer en verslaggewer is. In Het beloofde land het hy sy eie opskryf-posisie al spesifiek aan die orde gestel. So hardloop hy na die wc om alleen te wees en met sy aantekenboekie in die hand gou alles te kan opskryf wat ’n Karoo-oom vertel. ‘Ik schrijf, bladzij na bladzij, in de cadans van zijn zinnen want mijn angst om te vergeten is sterker dan mijn geheugen.’ (80) In die TV-reeks Van Dis in Afrika het kykers hom gereeld met sy vulpen en Moleskine-boekie op die rand van hotelbeddens sien sit. In Tikkop is sy laptop een van die eerste goed wat hy uitpak en dan ook ten einde raad in die wasmasjien wegsteek om te verhoed dat dit gesteel word, en dat hy sal vergeet wat hy ter plekke hoor en sien.

Toe Van Dis se karakter Marten tydens sy studentetyd in die 1970s Suid-Afrika vir die eerste keer besoek het, is van hom verwag dat hy ‘n infiltrant sonder mening moes wees: ‘een vriendelijke student die een brug tussen twee talen kon slaan – tussen Afrikaners en Nederlanders’ (80). Maar nooit was Van Dis sónder ’n mening nie. Tydens hierdie Marten se verblyf in die Tikkop-kusdorp verset hy hom veertig jaar later steeds teen die keurslyf van stilbly as hy vir Donald sê: ‘Wat doet in hemelsnaam mijn kleur ertoe. Wat voor overgevoelig dorp is dit? Ik wil zelf een mening vormen, of heb ik zoms een wandelverbod?’ (86)

Mag Adriaan van Dis hom met die Van Riebeeck-penning op sak nog baie jare gesteun voel om steeds die kritiese en betrokke waarnemer te bly van wat onder die suiderson gebeur. Dat hy onvergeetlike karakters soos Sophie, Eva Landman en haar Karoo-ooms, Donald, Hendrik, Stienie en die oestervrou sal blý beskryf vanuit sý perspektief. Moenie bang wees nie, Adriaan. Behalwe baie ander Afrikaanse sprekers en skrywers, staan nou ook die NZAV en selfs Jan van Riebeeck agter jou!


[1] Die meeste van Adriaan van Dis se uitsprake oor Afrikaans ontleen ek aan die spesiale nommer Vrijtaal van Optima (21:4; 2003: 5-8) waarvan hy gasredakteur was.
[2] Herman Wasserman: ‘Roman dra verdriet van ganse kontinent’ in Die Burger, 6 augustus 2001, p. 4.
[3] Hierdie artikel en nog baie meer, die dvd Van Dis in Afrika,  al sy boeke oor Suid-Afrika en resensies daarvan is in die SAI-biblioteek van die Zuid-Afrika Huis aanwesig.

 

Tags: