Nieuws

Interview met Adriaan van Dis in de Zuid-Afrikaanse krant Die Burger

As student het hy in Afrikaans die kleurgevoeligheid gevind waarmee hy as kind in ’n gemengde gesin gestoei het. Die Nederlandse skrywer Adriaan van Dis het vir Kirby van der Merwe – in vlot Afrikaans – vertel die taal sal nie verlore gaan nie.

‘Vir my is Suid-Afrika ’n sosiale laboratorium vir wat eintlik nou in Europa aan die gebeur is.”
Adriaan van Dis, befaamde Nederlandse skrywer, roer sy beker met ’n plastiekroerstokkie.
“Die groot veranderings, die koms van vreemdelinge en die wegvat van sekerhede van jou ou clan. En dít vra om ’n groot lenigheid van gees,” sê hy.
Adriaan het sommer self twee koppies kookwater en teesakkies vir ons twee by die toonbank in die voorportaal van die Garden Court-hotel in Hatfield gaan kry. Hy is geklee in donkerblou baadjie, hemp, ligte chino’s.
Op 68 is sy borselkop silwergrys. Ek onthou hom as jonger man; welige bos krulhare; ’n deurdringende kyk in die oë.
Hy is in Suid-Afrika op uitnodiging van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere. Die besoek val saam met die verskyning van Betrayal, die Engelse vertaling van sy roman Tikkop. (Dis deur Daniel Hugo uit Nederlands in Afrikaans vertaal.)
Die storm wat oor prof. Jonathan Jansen se kop losgebars het oor sy uitsprake oor die onderrigtaal in skole het die gesprek in dié rigting gestuur.
In 1990 het Adriaan se roman Het beloofde land: Een reis door de Karoo ook ’n klomp mense boos gemaak. Daar is gesê hy stel Suid-Afrikaners in ’n slegte lig en dat hy nie sy bronne genoegsaam erkenning gegee nie.
Vanmiddag is hy besadig, amper teruggetrokke, anders as eergisteraand aan huis van die Nederlandse ambassadeur in Waterkloof, Pretoria. Hy het die genooides laat giggel toe hy homself in sy gevatte toespraak skertsend beskryf het as ’n “wanhopige optimis”.
“Dis ’n pynlike ding as jy hier op al die universiteite ’n afdeling Afrikaans-Nederlands gehad het en nou kwyn dit,” gaan hy voort. “Maar taal beweeg, dis ’n organisme.”
Aanpas is die sleutel: Nederlands is verryk deur die “nuwe inkommers” soos die Turke, Marokkane en Surinamers.
Nederlanders kan by Suid-Afrikaners kom kers opsteek, sê hy: “Hoe julle omgaan met verskillende mense hier. Julle móét. Ons moet nou.”
Wit mense oor die algemeen moet ’n geweldige kopskuif maak: “Slegs 9% van die wêreldbevolking is blank, maar húlle beheer die ekonomie. Maar daar is nuwe ekonomieë, Indië, China, Suid-Amerika en Afrika, as hulle nie gaan toelaat dat ou koloniale lande of Chinese die vasteland leeg roof nie.”
Die slegste raadgewer wat jy kan hê, sê hy, is “die enkel stemmetjie van angs, van ‘ons word nou weggeveeg’.”
“Afrikaans is te pragtig en te belangrik en dit sal nie verlore gaan nie.”
Hy praat self vlot Afrikaans – sy DLitt-graad was oor Breyten Breytenbach se werk.
Het hy ’n beheptheid metAfrikaans en Suid-Afrika?
“Nee, spijtig nie,” sê hy met Nederlands wat deurglip.
“Kyk, ek het Tikkop (wat in die Wes-Kaap afspeel) in die eerste maal geskryf vir die Hollanders om te wys dat wat hier gebeur, gebeur in ’n sekere mate by ons. Daar is ook mense wat in armoede verval. Die kloof tussen ryk en arm in Europa word steeds groter.
“So, as jy praat oor die droom in Europa, daar is baie mense wat buite die droom lewe. Én daar is natuurlik ook die verleiding van dwelms. Oral.”
Tikkop gaan oor skuld en verraad, vertel hy verder. “Dit gaan oor twee mans wat byna 40 jaar tevore betrokke was by die anti-apartheid-versetbeweging in Nederland.
“Een is reeds vir jare al terug in Suid-Afrika en gevestig. Die ander een kom nou op gevorderde ouderdom en sieklik terug en hý ontdek wat geword het van die Suid-Afrika wat hy as jong politieke aktivis agtergelaat het.”
Hy wys middagete van die hand, vervat sy gesprek oor kleur en Afrikaans.
“My verhouding metAfrikaans is eintlik my verhouding met kleur,” sê hy.
Kleur, kan ’n mens sê, kleur sy werk, wat romans, digbundels, dramas, novelles en dokumentêre programme vir televisie insluit.
“Ek het opgegroei in ’n gekleurde gesin. My ma, ’n Hollandse boeredogter, het oor die kleurgrens getrou met ’n bruin man, ’n Indonesiër. My drie halfsusters is bruin.”
Indonesië was toe nog Nederlands-Oos-Indië, ’n Nederlandse kolonie. Sy ma en susters is tydens Japan se besetting tussen 1942 en 1945 drie jaar lank in ’n konsentrasiekamp daar aangehou. In dié tyd is haar man deur die Japannese onthoof.
“My ma se tweede man, my pa, kom uit ’n Indonesiese koloniale familie wat hul kleur ontken het.”
Ná die oorlog het dié “koloniale gesinne” hulle in Nederland kom vestig.
“In Nederland was dit ’n kwessie van aanpas en ook eintlik ’n kwessie van kleur ontken. Jy’s nou Hollander, jy praat nie meer van die verlore paradys nie. Behalwe die mengeltaal, Petjôh wat ons mense uit Indië (Indonesië) vir die snaaksigheid aan tafel gepraat het.
“Dit was die dialek wat in Indonesië tussen bruin en wit gepraat is. Dit was eintlik ’n bietjie om grappies te maak oor hoe sleg die inlanders Hollands praat. Maar dit was ook die taal van sentiment vir die blankes. Hulle was baie lief vir die taal.”
’n Voorbeeld van dié taal is die uitroep “Je-lâh-je-kripoet”, sê hy en wys na die lagplooie in die hoek van sy oog.
“Dis die kraaipoot. Dit beteken dat jy jouself gate uit moet lag.”
Toe hy as student “per toeval” Afrikaans begin lees, het hy “dieselfde teruggevind”.
“Kyk, die taal het my geraak, die grappies, die sentimente, die lekker mooi sêgoed.”
In die Afrikaanse letterkunde het hy ’n taal ontdek wat die “kleurgevoeligheid” verwoord het waarmee hy tot in daardie stadium van sy lewe gestoei het en nie woorde kon vind nie.
“ ’n Taal wat aansluiting vind by Europa terwyl dit eintlik ’n taal is wat die pyn en die skoonheid van die suide van Afrika beskryf. Dis Afrikaans.”
“Die kleur van Afrika het ek gevind in die kleurgevoeligheid van Klipwerk van N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman en selfs in S.J. du Toit se gedig “Hoe di Hollanders di Kaap ingeneem het,” sê hy.
Hy het dit ook gevind in G. Hobson se jeugboek Skankwan van die duine, sê hy: “Plotseling is ek daar in die Kalahari. Die verhaal was dalk neerbuigend, moontlik selfs rassisties, maar dit het ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak. Toe het ek eintlik tot ’n ander kleur gekom.”
Ook gedigte soos Adam Small se “What abou’ de lô” het hom geraak omdat sy ma oor die kleurgrens heen getrou het.
In Nederland was daar nie soos in Suid-Afrika ’n “ontugwet” nie, sê hy, “maar daar was die praktyk. Die wit vrouens het haar ’n bietjie met die nek aangekyk, soos ons sê. En die bruin mense het haar ook wantrou. Ek het opgegroei met daardie verskeurdheid.”
Hy het sy ouers se verlede in verskeie romans en novelles beskryf, soos die bekroonde roman Indische Duinen.
“Die ironie is, ek het baie daaroor opgelees. Ek het die foto’s versamel. Ék skryf hul verhale.
“Ek kon as kind nie uitkom by die verlede van my ouers nie. Hulle het daaroor geswyg. Daarom het ek eintlik ’n nuwe paradys gesoek. Dit was dan Suid-Afrika. Die Suid-Afrika in die boeke.”

Tags: , , ,